Wanneer ’n sjef met ’n droom, ’n kunstenaar met visie en ’n argitek met ’n passie vir die praktiese saam ’n projek aanpak, kan ’n mens seker wees van ’n indrukwekkend verbeeldingryke eindresultaat.
Dit klink amper of jy ’n grappie wil vertel: “Wat kry jy as jy ’n sjef kruis met ’n kunstenaar en ’n argitek…” Maar hier is g’n grap ter sprake nie – Casparus, ’n restaurant in ’n historiese gebou in Dorpstraat, Stellenbosch, is ’n meesterstuk wat deur drie merkwaardige mense verwesenlik is.
Die sjef Etienne Bonthuys se reputasie as kostowenaar is welbekend, maar met Casparus gaan hy ’n stap verder – hier word hy ’n vernuwer met ’n waagmoedige respek vir kuns, estetika en argitektuur. Hy het immers die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe en argitek Johann Slee gevra om ’n ou gebou te herskep, grense te verskuif en op ’n gesofistikeerde manier hulde te bring aan die natuur.
Casparus is as ’t ware ’n kunswerk. Die oorspronklike fasade het behoue gebly, maar die interieur is oopgemaak om behoorlik asem te haal. Die foyer – ’n toonkamer vir Strijdom se installasies en projekte – vorm die ingang na ’n groot, spelonkagtige ruimte. Hier skuil ’n smal kombuis agter skuifskerms waarop voorbeelde van Strijdom se werk gedruk is, en op een van die enkele vaste mure word films van sy verganklike landskapkuns geprojekteer.
Die sementvloere spog met houtinlegwerk; en aan die een kant van die ruimte is ’n muur op wiele met metaalkleur en rooi-en-blou skerwe wat soos glas lyk, en aan die ander kant ’n muur met skerms wat kan afsak as die weer guur is.
Maar die restaurant voel oorwegend oop, asof dit deel is van die tuin.
Binne-in ‘n boom
Op ’n vreemde manier kan ’n mens jou verbeel jy is diep binne-in ’n boom, tussen die wortels, en jy kyk uit op die groen blare, blou lug en die houttakke om en bo jou. Tog is jy ook blootgestel, want jy kan die ligte bries, die warm son en die koel naglug voel.
Daar is ook ’n kenmerkende kruis-en-dwars installasie, baie tipies van Strijdom se werk, wat na die hemel reik, ’n hemel wat voel of dit afbuig en die gebou verswelg. Die gebou is amper soos ’n onvoltooide kunswerk. Nie omdat dit nie klaar is nie, maar omdat dit juis bedoel is om nie voltooi te word nie. Nooit nie.
“Etienne het daarop aangedring dat die landskapkuns verganklik en die gebou dinamies moet wees… dit moet saam met die seisoene en die verskillende skeppings kan groei,” sê Johann.
Strijdom vertel hoe Etienne aangedring het op ’n gebou wat voortdurend verander, net soos sy kunswerke. “Hy het ’n gebou gesoek wat van die een week tot die volgende van gedaante verander. Ek moes gevolglik met die idee van bewegende mure vorendag kom… sodat die restaurant letterlik van een plek in die gebou na ’n ander kan skuif. Iets wat aanvanklik ’n hindernis was, was my fokus om ’n restaurant te ontwerp, maar Etienne het my herinner dat ons hoofsaaklik ’n ervaring probeer skep.
“Maar met my wat ’n kunstenaar is en Etienne ’n kruising tussen ’n sjef en ’n kunstenaar, kan jy jou voorstel hoe ons dikwels glad nie prakties gedink het nie – dis hier waar Johann in die prentjie gekom het.”
Kreatiewe gedagtes saamgesnoer
Volgens Johann is die benadering wat met Casparus se gebou gevolg is, identies aan die proses wanneer jy ’n kunswerk skep.
“Dit was ’n simbiotiese ineenstrengeling van kreatiewe gedagtes en idees tussen Etienne en Strijdom, en ek het net af en toe ingetree om so tussendeur die kuns ’n gebou te skep. Dit was interessant om te sien hoe die skeppende proses ontwikkel. Vir my was dit veral interessant omdat my deel – om die dop reg te kry – ondergeskik was en amper in die agtergrond moes help om die kuns tot sy reg te laat kom.”
Hoewel die gebou heeltemal herskep moes word, is dit steeds ’n lieflike voorbeeld van die negentiende eeuse argitektuur. Dit kon nie maklik gewees het om met ’n kreatiewe, werkbare oplossing vorendag te kom as ’n mens die uitdagings in ag neem wanneer jy met ’n historiese gebou werk nie. Strijdom sê Johann het gelukkig al dié kwessies opgelos.
“Johann is die een wat moes aantree by die verskillende komitees. Hy moes hulle verseker dat ons die geskiedenis van die gebou ter harte neem en hulde daaraan wou bring, dat ons die geskiedkundige Stellenbosch wou eer, soos die foto’s en installasies in die foyer te kenne gee.”
“Ons het besluit om nie te karring aan die oorspronklike struktuur nie,” verduidelik Johann, “omdat dit op historiese vlak sy regmatige plek in Dorpstraat vervul. Ons het eerder gefokus op die onsensitiewe strukture aan die agterkant wat in 1972 en 1980 aangebou is, maar terselfdertyd wou ons die bestaande fondament behou om nie die argeologies sensitiewe terrein onnodig te versteur nie.”
En wat dink Etienne van die hele storie? Hy is mal daaroor dat die gebou blootgestel is aan die elemente… die reën kan dalk inkom, in die winter sal verwarmers dalk nodig wees… Hy trek sy skouers op, heeltemal in vervoering. “Dit is vryheid. Die vryheid om te skep.”